Wednesday, September 22, 2010

LESBEPLANNING

Omvattende lesbeplanning is die steunpilaar vir die onderwyser wat erns maak om ‘n doeltreffende, inligtingryke, akkurate en interessante les aan hul leerders voor te lê.

1    Die belangrikheid van ‘n lesplan.

  •     Help met die integrasie van didaktiese hulpmiddele.
  •     Help met die voorbereiding van die teorie.
  •     Skakel met die vorige les.
  •    Help met die keuse van die onderrig metode.
  •     Help met die kies en implementering van hulpbronne en hulpmiddele.
  •    Help met hersiening.
  •    Help om die verloop van jou les te visualiseer.
  •    Beplanning van roetine werk bv. huiswerk of voorbereiding van bv. demonstrasies.
  •    Beplan hoe jy jou uitkomste gaan bereik.




2.1    Wat is die rasionaal vir lesbeplanning?


  • Lesplan moet met die onderwyser kommunikeer- die onderwyser moet die les goed verstaan om dit akkuraat en interessant oor te dra.
  • Dit moet jou help om die les te organiseer 
  • Om jou leeruitkomste te bereik
  • Dit hou rekord van die onderwyser se vordering
  • Help jou om spesifiek te wees(inligting, navorsing, feite en demostrasies)




2.2    FOUTE wat tydens die beplanningfase van ‘n les voorkom.

2.2.1    Die doelwit van die les spesifiseer nie werklik wat die onderwyser wil doen nie. Swak doelwitte lei tot verkeerde gevolgtrekkings (konklusies)

1)    As die onderwyser nie die doelwit van die les na behore verstaan of uitvoer nie sal dit daartoe bydra dat die uitkoms nie bereik word nie. Die leerders in die klas sal ‘n idee vorm van wat hy oordra, maar dit sal waarskynlik nie aan enige voorkennis gekoppel kan word nie, leer sal nie plaasvind nie. Die onderwyser moet besef om die doelwit van sy les so te formuleer dat dit in lyn is met die verwagte leeruitkoms wat vir die spesifieke graad gestel is. Soos die uitkomste moet jou doelwitte in jou les eerstens aan voorkennis gekoppel word, waar voorkennis herroep word, nuwe kennis aangeleer kan word en vaslegging van nuwe kennis kan plaasvind. Tweedens moet jou doelwitte soos die uitkomste progressief verhoog en aanvul om leer te bevorder.

2)     Die onderwyser moet daarteen waak dat doelwitstelling nie onafhanklik van sy werklike onderrig staan nie. Die doelwit bepaal dat sekere kennis deur die les vasgelê moet word, maar die rigting of die uitkoms van die aktuele les spreek ander uitkomste aan. Om dit te verhoed moet die onderwyser voor hy/sy doelwitstelling doen, homself vereenselwig met die kritieke uitkomste, ontwikkelingsuitkomste, leeruitkomste en die assesseringstandaarde soos vervat is in die kurrikulumverklaring, wat hy in sy les wil bereik. Na die vasstelling van voorvermeld moet die doelwitte dienooreenkomstig daarvan afgelei word. Dit is nou van kardinale belang dat die onderwyser in sy lesbeplanning die les inhoud rig op die doelwit wat op sy beurt van die uitkomste afgelei is, om effektiewe leer te bewerkstellig.


2.2.2    Die les assessering is verwyder/uitgesluit van hoe dit in die doelwit uiteen gesit is.

1)    Ten eerste is dit noodsaaklik dat die onderwyser  met die samestelling van sy assessering homself vergewis van die assesseringstandaarde soos vervat in die      kurrikulumverklaring. Verseker dat die assesseringstandaard ooreenstem met die  uitkoms wat beplan is. Die leeruitkomste en assesseringstandaarde moet duidelik en relevant in die lesbeplanning weergegee word.

2)    Verseker nou dat hierdie uitkomste en assesseringstandaarde in jou inleiding en inhoud van jou les vasgelê word. In jou lessamestelling konsentreer op jou doelwitte wat op sy beurt gekoppel is aan jou finale assessering.

3)    Alle demonstrasies, rolspel, aktiwiteite, gevallestudies, navorsing, eksperimente, groepwerk, ondersoeke en opdragte moet relevant met die doelwitte van jou les geformuleer word. Die assessering moet op sy beurt vanaf die doelwitte/uitkomste geformuleer word. Daar moet spesifiek gelet word dat daar in aktiwiteite soos rolspel en groepwerk, waar daar verskillende opinies oor ‘n onderwerp voorkom, die deelnemers duidelik weet en gehoor gee aan die riglyne wat neergelê word om sodoende binne die konteks van die doelwit te bly.  



2.2.3    Die gespesifiseerde materiaal in die les is vreemd van die werklike voorgeskrewe leer aktiwiteite. Te veel inhoud word behandel buite die konteks van die uitkoms.

1)    Waar onderwysers van verskillende materiale of bronne gebruik maak om hul lesse aan te vul, wat ‘n baie goeie ding is, gebeur dit dikwels dat hierdie addisionele inligting wat in die les oorgedra word deur vertelling, transparante demonstrasies, handboeke of vertonings, nie tot die leerders se beskikking is nie. Waar van ander materiaal gebruik gemaak word moet die onderwyser verseker dat dit deur middel van afgerolde folio’s aan die leerders gegee word om in hul skrifte te plak wat later as verwysing, naslaan of hersiening gebruik kan word. Waar van addisionele handboeke gebruik gemaak word kan ‘n eksemplaar daarvan in die klas gelaat word vir leerders se gebruik. Die onderwyser moet verseker dat noukeurige verwysings rakende die werk beskikbaar is en waar dit nageslaan kan word, sou uit ‘n handboek gewerk word.

2)    Waar onderwysers van pakket onderrigmodules gebruik maak, veral die wat geformuleerde aktiwiteite bevat, sal die onderwyser dikwels let dat die aktiwiteit eerstens, vrae bevat wat nie in die les voorgekom het nie. Tweedens dat die vlak van die aktiwiteit meer kompleks is as die standaard/vlak van die klas. Die les sal vreemd van die aktiwiteit wees en die leerders sal verward wees, of die vrae verkeerd antwoord, dit raai of glad nie dit antwoord nie. Waar die les en die aktiwiteit vervreemd is, het dit ‘n negatiewe uitwerking op die leerders aangesien hulle geen hulpmiddels kan vind om hulle te help nie.

3)    Dit kan ook gebeur dat onderwysers van materiaal gebruik maak, wat min of geen verwysing, na die les of leer aktiwiteit wat aangebied word, het nie. In EBW kan daar byvoorbeeld na gevallestudies of scenario’s verwys word wat in die makro of breë konteks oorsigtelik na die les verwys maar wat op mikro vlak nie by jou les pas nie. Hierdie inligting verwar die leerders en geen leer vind plaas nie.

  
2.2.4    Die onderrigmetode/vlak wat die onderwyser gebruik is nie geskik vir effektiewe leer nie.

      1)    Die onderwyser se verantwoordelikheid is om so gou moontlik elke leerder in sy     klas te leer ken. Hier word nie na die leerder se omstandighede of persoonlikheid     verwys nie maar eerder watter strategie hy/sy die beste mee presteer in die     proses van leer. Leerder se leerstyle en leerstrategieë verskil en die     onderwyser     moet sy lesplan, aktiwiteite en assessering dienooreenkomstig aanpas. Dit is baie     moeilik maar moet tog oorweeg en waar moontlik toegepas word. Die     onderwyser se onderrigstyle in elke les moet saamgestel word om beide visuele en     ouditiewe leerders te akkommodeer. Die onderwyser moet ook leerders met     leerstruikelblokke akkommodeer wat sig, hardhorendheid, disleksie en ander     insluit.

2)    Die onderwyser moet die mees geskikte onderrigstyl aanwend wat by die les pas. Daar kan dus nie van die leerder verwag word wat die uitwerking van ‘n eksperiment sal wees as dit net mondelings oorgedra word nie. Die leerder moet die eksperiment of demonstrasie visueel of prakties waarneem. Daar kan byvoorbeeld nie van ‘n leerder in EBW verwag word om die produksieproses van ‘n motorvervaardiger te snap, as dit nie visueel deur middel van ‘n video, power point of uitstappie waargeneem kan word nie.
  
3)    Die onderwyser moet ook van verskillende onderrigmetodes gebruik maak vir effektiewe leer. Persoonlike ervaring en praktiese ondervinding het ‘n groot uitwerking op leer. Die onderwyser moet nie net op onderwysergesentreerde onderrig konsentreer nie maar moet ook effektiewe leerdergesentreerde leer toepas in die klaskamer.


2.2.5    Die leerder aktiwiteite soos vervat in  die lesplan dra nie direk en effektief by tot die doelwitte van die les by nie.

1)     Dit is van kardinale belang om met beplanning van leerder aktiwiteite die doelwit     van die les maar ook veral die uitkomste wat bereik wil word, asook die wat     bereik moet word, ingedagte te hou. Hoekom ek onderskei tussen, wil bereik en     moet bereik, is:
        In die hedendaagse samestelling van ‘n klas word mens gekonfronteer     deur ‘n wye spektrum van diversiteit, kulture en omstandighede. Hierdie     diversiteit en veral omstandighede waarin leerders verkeer, sou dit         sosio-ekonomies, opvoedkundig of persoonlik van aard wees, veroorsaak     dat leerders in die klas op verskillende kundigheidsvlakke verkeer. Die     onderwyser in sy beplanning stel ‘n ideaal voor wat hy met sy aktiwiteit     wil bereik. Hierdie ideaal is gegrond op die verwagting van die     onderwyser en is redelik omvattende. Verder is hierdie verwagting     gewoonlik geskoei op die vermoëns van skrander leerders in die klas en     die kundigheid van die onderwyser. Hierdie hoë verwagting kan     veroorsaak dat die leerder aktiwiteit vir die meeste leerders nie bereikbaar     is nie. Die onderwyser moet hom/haar toespits op die uitkomste wat bereik     moet word. Die aktiwiteite moet so beplan word dat dit inklusief binne     alle leerders se vermoëns val. Dit moet betrekking hê tot die werk wat     behandel was, of waar navorsing gedoen moet word, moet die betrokke     aktiwiteite uit die inligtingstuk geformuleer word.

2)    Om by die vorige punt aan te sluit is dit belangrik dat die onderwyser homself vergewis van die leeruitkomste en die assesseringstandaarde soos in die kurrikulum vervat word. Die leerder aktiwiteit moet hiervolgens saamgestel word om te verseker dat die kennis en vaardigheid wat bereik wil word stroop met standaard, vlak en graad waarvoor jy die aktiwiteit beplan.

3)    Die aktiwiteite moet so beplan word om die leerder se voorkennis op te roep, hierop te bou en om vaslegging van nuwe kennis, te verseker.

4)    Waar die onderwyser met voorgeskrewe materiaal werk, waar aktiwiteite reeds deur die samesteller verwoord is, moet die onderwyser hierdie aktiwiteite deeglik ondersoek om die relevansie daarvan op jou lesbeplanning te bepaal. Dit is opmerklik hoeveel van hierdie voorgeskrewe materiaal se aktiwiteite nie direk met jou lesplan verband hou nie. Dit is raadsaam om liewer jou eie leerder aktiwiteit saam te stel deur van die voorgeskrewe aktiwiteite met jou eie te kombineer.

5)    Met die samestelling van ‘n leerder aktiwiteit moet die onderwyser in die intermediêre- en senior fase (tot Gr. 7) toesien dat sy vrae of aktiwiteit direk en leidend is. Sou die vraag of aktiwiteit meerdoelig gevra of saamgestel  word sal dit die leerder waarskynlik verwar en die doelwit of uitkoms sal nie deur die leerder bereik word nie. Voorvermelde  is natuurlik veralgemeen en nie op alle leerders of skole van toepassing nie.

6)    Die onderwyser moet toesien dat die vrae verband hou met die lesplan en dat begrippe uit sy/haar les saamgestel word om as leerder aktiwiteit te dien. Sommige vrae kan van die kern van die les afsien, of nie met vorige les integreer nie. Sulke aktiwiteite het geen positiewe effek op leer nie en die doelwit wat gestel word, word nie bereik nie.